Tweelingtransfusiesindroom (TTS)
Wat is TTS?
TTS is ’n komplikasie van identiese tweelinge, waar die tweeling ‘n enkele plasenta deel. Een in elke vyf stelle tweelinge deel ‘n enkele plasenta. TTS kom by een uit elke vyf van hierdie tweelinge voor. TTS ontwikkel as bloedvate van een tweeling se gedeelte van die plasenta verbind is met die ander tweeling se gedeelte van die plasenta. Een tweeling (die “skenker”) pomp dan bietjie vir bietjie sommige van sy bloed deur die plasenta na die ander tweeling (die “ontvanger”).
As dit lank genoeg aanhou, eindig die skenkertweeling met minder en minder bloed in die sirkulasie. Hy sal dan nie so goed groei as wat hy moet nie. Daar word ook minder vrugwater geproduseer. Uiteindelik, sit die baba “vas” aan die kant van die uterus, want daar is byna geen vrugwater in sy sak nie. Hy kan selfs in die baarmoeder sterf, omdat daar nie genoeg voedingstowwe of suurstof is om aan die lewe te bly nie.
Die ontvanger, aan die ander kant, groei vinniger en produseer te veel vrugwater. Daar kan soveel vrugwater ontwikkel, dat die moeder se buik so skielik groter word dat dit ongemaklik en selfs pynlik word. Die groot hoeveelheid vrugwater kan ook ’n miskraam of premature kraam veroorsaak. Verder kan die ontvangertweeling hartversaking ontwikkel as gevolg van die oorlading van die bloed in die sirkulasie.
Het ek ‘n risiko vir die ontwikkeling van TTS?
Jy het ‘n risiko as jy:
- ‘n identiese tweeling verwag wat ‘n plasenta deel
Jy het ‘n groter risiko as:
- jou tweeling aansienlik verskil in grootte (gewoonlik meer as twee weke) voor 26 weke
- die nekplooimeting (gemeet op 11-13 weke) van jou tweeling baie verskil
- jy ’n toename in vrugwater (genaamd “polihidramnios”) van een tweeling het. Jy kan bewus word van buikpyn of ongemak, of ‘n skielike toename in die grootte van jou baarmoeder. Die toename in vrugwater kan opgetel word met ’n sonarondersoek bevestig word.
Wanneer sal TTS vermoed word?
- As daar een van hierdie “risiko”-simptome aanwesig is, of
- Soms is dit moeilik om die vlies tussen die twee vrugsakke te sien, en kan dit op sonar lyk na ‘n tweeling met ‘n enkele vrugsak ( “monoamniotiese” tweeling).
Hoe sal TTS bevestig word?
‘n Deeglike sonarondersoek met goeie toerusting is nodig. Die membraan tussen die twee tweelinge kan moeilik wees om te sien, maar kan naby aan die skenkertweeling gesien word. Hierdie tweeling is te klein vir die swangerskapsduur. Sy beweeglikheid is beperk as gevolg van ‘n gebrek aan vrugwater. Sy blaas is leeg en is dus moeilik om te sien op sonar. Die ontvangertweeling is weer baie beweeglik in ‘n groot hoeveelheid vrugwater. Hy is groter as die ander tweeling. Sy blaas is prominent gevul. Soms is daar tekens van vloeistof in die abdominale holte van die toraks, indien dit al hartversaking (sogenaamde “hidrops”) ontwikkel.
Wat kan gedoen word vir TTS?
- In die verlede is sonder veel sukses probeer om deur medikasie die hoeveelheid vrugwater te verminder, kontraksies te onderdruk, en hartversaking te probeer behandel. Met of sonder hierdie medikasie, sou minder as 5% van ‘n tweeling met erge TTS oorleef.
- Nog ‘n opsie is vrugwaterdreinasie, waar groot hoeveelhede vrugwater van die vrugsak van die ontvangertweeling gedreineer word. Dit kan help om die swangerskap te verleng, maar vrugwaterdreinasie verander nie die onderliggende probleem nie. As een tweeling sou sterf, het die oorlewende ‘n hoë risiko vir permanente neurologiese skade, omdat dit skielik ‘n groot volume van die bloed in die sirkulasie van die dooie tweeling verloor.
- Die naelstring van ‘n tweeling kan afgebind word met ´n klein instrumentjie wat deur die buikwand tot in die baarmoederholte geplaas word. Dit sou beteken dat een tweeling sou sterf, maar gee die ander tweeling het ‘n beter kans om te oorleef en normaal te ontwikkel. In sommige omstandighede kan dit die beste opsie wees.
- Die mees aanvaarbare opsie is laserbehandeling. Dan word die bloedvate wat die `kortsluiting`veroorsaak tussen die twee baba’s se sirkulasie, toegeskroei met laser. Dit word ook gedoen deur klein instrumentjie deur die buikwand tot in die baarmoederholte te plaats. Dit vind in teater plaas. Voorheen was laser terapie net oorsee beskikbaar (bv. in Europa, Engeland en Amerika), maar word nou ook in Suid-Afrika uitgevoer. In die buiteland oorleef ten minste een tweeling in 70% van TTS swangerskappe wat met laser behandel is.
Waar kan ek meer inligting kry oor TTS?
‘n Paar nuttige internetadresse is (ongelukkig net in Engels beskikbaar):
http://www.twin2twin.org (die Verenigde Koninkryk TTS Vereniging)
http://www.tttsfoundation.org (die VSA TTTS Foundation)