Pasiënte

Welkom by dr. Lou Pistorius se praktyk vir moeder en fetus. Ons is hier om vir jou wêreld-klas sorg tydens jou swangerskap te bied in ‘n omgewing waar jy veilig en op jou gemak kan voel.

Of  jy na ons verwys is om te bevestig dat jy en jou baba gesond is, of omdat ‘n probleem vermoed word, begryp ons goed ​​dat dit ‘n stresvolle tyd kan wees. Ons sorg dus vir die bes moontlike mediese diagnose en sorg deur die nuutste tegnologie te gebruik en waar nodig ​​gebruik te  maak van ‘n wêreldwye netwerk van kundiges. Ons neem nie die taak van jou eie ginekoloog oor nie, maar bied bykomstige dienste, raad en advies aan in samewerking met jou ginekoloog.

Op hierdie webwerf kan jy meer lees oor verskillende moontlikhede vir diagnose en behandeling van jou baba. Ons doen sonarondersoeke, asook toetse soos amniosentese en chorioniese villus biopsie. Behandelingsmoontlikhede sluit bloedoortappings of endoskopiese chirurgie van die baba in die baarmoeder in.

Dit kan ook wees dat jy verwys word omdat jou eie gesondheid gevaar loop as gevolg van mediese probleme of as gevolg van ‘n komplikasie van jou swangerskap. Ons kan dan help om ‘n behandelingsplan vir jou swangerskap op te stel.

Prosedures en toetse

Sonar

  • 12 weke sonar – Die doel van hierdie sonarondersoek is om die swangerskapsduur te bevestig, die risiko vir Downsindroom (en ander chromosomale probleme) te bepaal, en die baba se ontwikkel te beoordeel. Dit kan van 11 weke 4 dae tot 13 weke 6 dae gedoen word.
  • 20w sonar – Die hoofdoel van hierdie sonarondersoek is om die baba se strukturele ontwikkeling te beoordeel.  Dit kan van 19 tot 22 weke gedoen word.
  • Sonar vir groei & Doppler – Hierdie sonarondersoek word meestal na 26 weke gedoen. Die grootte van die baba word gemeet, en Dopplersonar word gebruik om die bloedvloei in die naelstring en ander bloedvate in die baba te meet.

Indringende diagnostiese prosedures

  • Amniosentese – Met ‘n amniosentese word ‘n vrugwatermonster afgeneem deur ‘n naald deur die buikwand tot in die baarmoederholte te plaas. Die selle en vloeistof in die vrugwater is afkomstig van die baba, en kan gebruik word om spesifieke toestande van die baba te diagnoseer.
  • Chorionvillus biopsie – Met ‘n chorionvillus biopsie word ’n weefselmonster van die  plasenta verkry deur ’n dun naald deur die buikwand tot  in die plasenta te plaas. Die selle van die chorionvilli is afkomstig van die baba en kan gebruik word om spesifieke toestande van die baba te diagnoseer.
  • Kordosentese  – Met ‘n kordosentese word ‘n bloedmonster van die ongebore baba verkry deur ‘n dun naald deur die buikwand tot in die naelstring te plaas. Die bloed in die naelstring is afkomstig van die baba, en kan gebruik word om spesifieke toestande van die baba te diagnoseer.

Nie-indringende prenatale toetse

  • Fetale DNA toetse (NIPT: nie-indringende prenatale toets) vul sonar (en biochemiese siftingstoetse) en indringende toetse aan.

Terapeutiese prosedures

  • Intra-uterine transfusie – As ‘n ongebore baba ernstig bloedarmoedig is, kan bloed aan die baba gegee word deur ‘n dun naald wat deur die buikwand tot in die  naelstring of die baba se buikholte geplaas word.
  • Laser vir tweeling transfusie sindroom (TTTS) – TTTS is ‘n komplikasie van identiese tweelinge, waar een tweeling te veel vrugwater produseer, en die ander “vasgeplak” is as gevolg van ‘n tekort aan vrugwater. Dit kan behandel word deur bloedvate wat die twee se sirkulasie op die plasenta verbind, met laser deur ‘n fetoskoop toe te skroei.

Spesifieke toestande

Ons gee hier graag inligting oor ‘n aantal algemene toestande in swangerskap.  Dit is ‘n algemene riglyn. Bespreek asseblief enige vrae met ons; ons gee graag meer inligting oor jou spesifieke situasie.

Fetale toestande

  • Downsindroom is die algemeenste chromosomale abnormaliteit in mense.
  • Spina bifida ontstaan waar die ruggraat vroeg in die swangerskap nie goed gevorm word nie.
  • Tweelingtransfusiesindroom is ‘n potensiëel dodelike komplikasie van identiese tweelinge waar bloed van die een tweeling se sirkulasie na die ander een s’n verskuif.

Moederlike toestande

Tariewe

Ons praktyk is uitgekontrakteerd.