Fetale DNA toets / NIPT (nie-indringende prenatale toets)

Downsindroom as gevolg van trisomie 21 (‘n ekstra chromosoom 21) en die mees algemene ander chromosoomprobleme, Edwardsyndroom (‘n ekstra chromosoom 18 ) en Pateausindroom (‘n ekstra chromosoom 13) kan ook bepaal word deur die DNA van die baba uit die ma se sirkulasie te toets.  Dit beteken dat ‘n bloedmonster by die ma geneem word, en na Amerika gestuur word. Daar is verskillende variante hiervan, insluitende die “Harmony” en “Panorama” toets.

Hierdie toetse bly siftingstoetse, en spoor 99,9% van babas met Downsindroom op.  Die kans op ‘n verkeerde positiewe bevinding is ook net 1/1000.

Die belangrikste nadeel hiervan is die koste. Alle mediese fondse betaal nog nie daarvoor nie.  Dit  is wel baie akkuraat, maar kan nog nie heeltemal ‘n amniosentese of chorionvillusbiopsie vervang nie. Die DNA toetse kan vanaf 10 weke gedoen word.  Ons aanbeveling is om eers by 12 weke ‘n sonarondersoek te doen om te help bepaal of dit wel die mees geskikte toets vir jou is.

As jy meer wil weet, lees hierdie inligtingkontak ons, of gaan snuffel op een van die verskaffers se webwerwe, bv. Natera of Ariosa.