12 Weke Sonar

Die 12 weke sonar kan van 11 weke 4 dae tot 13 weke 6 dae gedoen word.  Die sonar word meestal deur die buikwand (uitwendig) gedoen, maar dit kan soms nodig wees om ‘n transvaginale (inwendige) sonar te doen.

Die doel van die 12 weke sonar is:

  • Om die swangerskapstermyn akkuraat te bepaal (as dit nog nie gebeur het nie).
  • Om, in geval van ‘n tweeling of ander meervoudige swangerskap, dit tipe tweeling vas te stel.  Dit is belangrik om te weet of elke tweeling sy eie plasenta het en of hulle ‘n enkele plasenta deel.  As hulle ‘n enkele plasenta deel, is dit raadsaam om meer gereeld ‘n sonarondersoek tydens die swangerskap te doen.
  • Om te kyk of die baba normaal groei en ontwikkel.  Sommige groot probleme kan al teen 12 weke sigbaar wees, maar dit is baie beter om teen  20 weke ‘n sonar te doen om anatomiese probleme uit te sluit.
  • Om die risiko vir Downsindroom en ander chromosoomprobleme te bereken. Jou individuele risiko word bereken op basis van jou ouderdom, sekere hormone in jou bloed, en wat op sonar te sien is.

Persoonlike risiko vir Downsindroom

Verreweg die meeste baba’s is normaal.  Aan die ander kant het elke vrou, ongeag hoe oud sy is, ‘n klein risiko om ‘n baba te kry met ‘n liggaamlike of verstandelike gestremdheid.

Die enigste manier om heeltemal seker te wees of die baba ‘n chromosoomafwyking het of nie, is om ‘n prosedure soos ‘n chorionvillusbiopsie of amniosentese te doen.  Hierdie prosedures het egter ‘n risiko van ongeveer 1/300 om ‘n miskraam te veroorsaak. Die mees akkurate, maar duur, sifting vir Downsindroom is nie-invasiewe DNA-toetse.

Met die sonarondersoek tussen 11 en 13 weke word die risiko vir Downsindroom ook beoordeel.  Die risiko hang af van:

  • jou ouderdom,
  • die vlak van twee hormone (vry ß-hCG en PAPP-A) in jou bloed, en
  • sonarbevindings: veral die hoeveelheid vog agter die nek van die baba (nekvogdikte) en moontlike liggaamlike gebreke.  Om ‘n risikobepaling te verfyn, kan die neusbeen, hartspoed en bloedvloei deur ‘n aartjie tussen die naelstring en hart beoordeel word.

Na die sonarondersoek bespreek ons die geskatte risiko vir Downsindroom en ander chromsoomafwykings (trisomie 13 en 18) met jou. (Alhoewel die bloedtoetse vantevore gedoen word, word die resultate eers saam met die sonarondersoek se resultate in berekening gebring.) Op grond van hierdie risikoskatting kan jy besluit of jy ‘n chorionvillusbiopsie of amniosentese wil laat doen.  As algemene riglyn word so ‘n toets aanbeveel indien die risiko vir Downsindroom 1 / 300 of groter is.

Die risikoskatting bly ‘n siftingsondersoek.  Onder optimale toestande spoor die toets 90% van baba’s met Downsindroom op, met ‘n 5% kans van ‘n vals positiewe toets.  Optimale toestande hou in dat die bloedtoets teen 8-10 weke gedoen word, en dat die sonarondersoek teen 12 weke gedoen word deur iemand wat spesifiek daarvoor opgelei is, en wie se sonarondersoek onderworpe is aan kwaliteitskontrole deur ‘n onafhanklike organisasie.

Ongeag daarvan of jy ‘n chorionvillusbiopsie of amniosentese ondergaan of nie, is die aanbeveling om ‘n 20 weke sonar te laat doen om liggaamlike gebreke uit te sluit.

Jy is welkom om jou man saam te bring vir die sonar. ‘n Ander vriend(in) of  jou ouers of skoonouers is ook welkom. Oppas wel dat te veel mense saamkom, wat dit vir jou en jou man moeiliker kan maak om te fokus as iets spesifieks verduidelik word. Om klein kinders saam te bring, is ook meestal vir die kind van min waarde, en eerder ‘n afleiding vir jouself.

Skakels

(ongelukkig net  in Engels beskikbaar):

Fetal Medicine Foundation – die instansie wat die 12 weke sonar verfyn het en steeds verfyn

Waar kom Downsindroom vandaan? Inligting van die Downsindroom vereniging van Suid-Afrika

Inligting oor die Downsindroom siftingstoets

Hoe die sonarbeelde moet lyk:

(beeldmateriaal van die Fetal Medicine Foundation)

 

Nuchal translucency measurement
Nekvogdikte
Nasal bone
Neusbeen
Blood flow through ductus venosus
Bloedvloei in ‘n aartjie tussen die naelstring en hart