Prosedures

Hier is ‘n lys van die sommige van die prosedures wat ons bied.  Skakel ons gerus as jy nie seker is watter op jou van toepassing is, of daar inligting is wat jy nie op die webwerf kan vind nie.

Sonar

12 weke sonar

Die doel van hierdie 12 weke sonar is om die swangerskapsduur te bevestig, die risiko vir Downsindroom (en ander chromosomale probleme) te bepaal, en die baba se ontwikkel te beoordeel. Dit kan van 11 weke 4 dae tot 13 weke 6 dae gedoen word.

20 weke sonar

Die hoofdoel van die 20 weke sonar is om die baba se strukturele ontwikkeling te beoordeel.  Dit kan van 19 tot 22 weke gedoen word.

Sonar vir groei en Doppler

Hierdie sonarondersoek word meestal na 26 weke gedoen. Die grootte van die baba word gemeet en Dopplersonar word gebruik om die bloedvloei in die naelstring en ander bloedvate in die baba te meet.

Nie-invasiewe diagnose

Fetale DNA toets / Harmony toets

Met behulp van’n bloedtoets wat op die swanger vrou gedoen word, kan Downsindroom en ander algemene chromosomale probleme (soos trisomie 13, trisomie 18 en X- en Y-abnormaliteite) met ‘n hoë mate van akkuraatheid bepaal word. Duur, en nog nie heeltemal so akkuraat soos amniosentese of chorionvillusbiopsie nie, maar sekerlik ‘n alternatief om te oorweeg.

Diagnostiese prosedures

Amniosentese

‘n  Vrugwater monster word verkry deur   ‘n naald deur die buikwand tot in die baarmoederholte te plaas.  Die selle  en vloeistof in die vrugwater is afkomstig van die baba, en kan gebruik word om spesifieke  toestande  van die baba te diagnoseer.

Chorionvillusbiopsie

’n Weefselmonster van die  plasenta word verkry deur ’n dun naald deur die buikwand tot  in die plasenta te plaas.Die chorionvilluselle is afkomstig van die baba en kan gebruik word om spesifieke toestande van die baba te diagnoseer.

Kordosentese

‘n Bloedmonster van die ongebore baba word verkry deur ‘n dun naald deur die buikwand tot in die naelstring te plaas. Die bloed in die naelstring is afkomstig van die baba, en kan gebruik word om spesifieke toestande van die baba te diagnoseer.

Fetale DNA

As alternatief vir amniosentese, chorionvillus biopsie en kordosentese, kan fetale DNA uit ‘n bloedmonster van die moeder bepaal word.

Terapeutiese prosedures

Intra-uterine transfusie

As ‘n ongebore baba ernstig bloedarmoedig is, kan bloed aan die baba gegee word deur ‘n dun naald wat deur die buikwand tot in die  naelstring of die baba se buikholte geplaas word.

Laserbehandeling van tweeling transfusie sindroom (TTS)

TTS is ‘n komplikasie van identiese tweelinge, waar een tweeling te veel vrugwater produseer, en die ander “vasgeplak” is as gevolg van ‘n tekort aan vrugwater. Dit kan behandel word deur bloedvate wat die twee se sirkulasie op die plasenta verbind, met laser deur ‘n fetoskoop toe te skroei.