20 Weke Sonar

Die 20 weke sonar kan van 19 tot 22 weke gedoen word.  Die sonar word meestal deur die buikwand (uitwendig) gedoen, maar dit kan soms nodig wees om ‘n transvaginale (inwendige) sonar te doen.

Die doel van die 20 weke sonar is om die volgende te beoordeel:

  • die strukturele ontwikkelig van die baba. met spesiale aandag vir die brein, ruggraat, gesig, hart, maag, derm, niere en ledemate.  As jy dit verkies, kyk ons of dit ‘n seuntjie of dogtertjie is.
  • die groei van die baba
  • die posisie van die plasenta
  • die hoeveelheid vrugwater
  • die lengte van die serviks om die risiko vir premature kraam te bepaal (veral in die eerste swangerskap, of as die kraam in ‘n vorige swangerskap in kraam voor 37 weke begin het)
  • die bloedvloei in die baarmoederslagare om die risiko vir groeivertraging of pre-eklampsie te bepaal.

Sommige ekstra gespesialiseerde tipes van die 20 weke sonar sluit fetale eggokardiografie in, waar die baba se hart in meer detail bekyk word, en fetale neurosonografie, waar die baba se brein in meer detail bekyk word.  Dit word gewoonlik gedoen as  ‘n probleem vermoed word, of as daar ‘n risiko is vir ‘n spesifieke hart- of breinafwyking.

Verreweg die meeste baba’s (>95%) word gesond gebore. Met ‘n 20 weke sonar kan ongeveer die helfte van ernstige liggaamlike gebreke gesien word.  Of dit raakgesien word of nie, hang van ‘n aantal faktore af:

  • die spesifieke toestand: sommige toestande, soos spina bifida, anensefalie (waar die skedel nie ontwikkel nie) of gastroskise (waar daar ‘n opening in die buikwand is) sien ons meer as 90% van tyd. Ander toestande, soos serebrale verlamming of autisme, sien ons meestal NIE op sonar nie.  Sommige toestande (byvoorbeeld sekere tipes dwerggroei of hydrosefalus) ontwikkel eers later in die swangerskap.
  • hoe goed die baba op sonar gesien word.  Dit hang weer af van dinge soos die kwaliteit van die sonarapparaat en ervaring van die persoon wat die sonar doen, maar ook van faktore soos die swangerskapsduur, die posisie van die baba en plasenta, die hoeveelheid vrugwater en vet of moontlike littekenweefsel in jou buikwand. Veral as jou BMI bo 30 is, kan dit lastig wees om alle detail goed te beoordeel.
  • die 20 weke sonar is nie ‘n goeie siftingstoets vir Downsindroom nie.  Omdat omtrent die helfte van baba’s met Downsindroom een of ander groot of klein afwyking het wat op die 20 weke sonar sigbaar is, is dit beter om ‘n 12 weke sonar te doen as jy wil weet wat jou baba se risiko vir Downsindroom is.

As ons iets buitengewoon sien, probeer ons om so ‘n akkurate diagnose as moontlik te maak.  Dit kan nodig wees om ander toetse soos bloedtoetse of ‘n amniosentese te doen, ander spesialiste (byvoorbeeld ‘n genetikus) te konsulteer, of  die sonar oor ‘n tyd te herhaal.

Jy is welkom om jou man saam te bring vir die sonar. ‘n Ander vriend(in) of  jou ouers of skoonouers is ook welkom. Oppas wel dat te veel mense saamkom, wat dit vir jou en jou man moeiliker kan maak om te fokus as iets spesifieks verduidelik word. Om klein kinders saam te bring, is ook meestal vir die kind van min waarde, en eerder ‘n afleiding vir jouself.

Skakels:

(ongelukkig net in Engels beskikbaar):

Fetal Medicine Centre

Obstetric ultrasound

Fetal profile
Fetale profiel