Intra-uteriene transfusie

Gedurende ‘n swangerskap, kan ‘n baba só bloedarmoedig word dat daar ‘n gevaar van ‘n intra-uterine dood ontstaan.  In die verlede was dit gewoonlik die gevolg van Rhesus bloedgroep onverenigbaarheid.  As die moeder Rhesus negatief is en die baba Rhesus positief, kan haar immuunsisteem antiliggame ontwikkel, wat veroorsaak dat die baba se rooibloedselle vinniger afbreek as wat dit geproduseer kan word. Deesdae is die meeste gevalle van fetale bloedarmoede die gevolg van ‘n infeksie met Parvovirus B19, ‘n virus wat “vyfde siekte” veroorsaak; ‘n andersins nie ernstige kindersiekte met bietjie koors en ‘n veluitslag op die wange.

Wat ook al die oorsaak is: as die baba in die baarmoeder baie bloedarmoedig word, kan hy tot ‘n mate kompenseer, maar loop hy die risiko om hartversaking te ontwikkel (hidrops) en in die baarmoeder dood te gaan. As die baba met ‘n Doppler sonar lyk of dit bloedarmoedig is, sal ons alles regkry vir ‘n intra-uteriene transfusie.  Die bloedbank berei spesiale O negatiewe bloed voor vir die transfusie.

Voor die transfusie, ontvang jy antibiotika (om infeksie te voorkom) en medikasie om jou te help ontspan tydens die prosedure, wat tot ‘n uur kan duur.  In die sonarkamer, word ‘n kordosentese gedoen en ‘n bloedmonster word geneem om te kyk of die baba inderdaad bloedarmoedig is.  (‘n Deel van die bloedmonster kan ook gestuur word vir ‘n chromosoomondersoek).  As die baba bloedarmoedig is, bereken ons hoeveel bloed hy nodig het, en die bloed word deur dieselfde naald gegee.  Meestal gee ons ook medikasie aan die baba sodat hy stil bly lê tydens die prosedure.  Dit neem ‘n paar uur om uit te werk.  As die swangerskapsduur minder as 20 weke is, is dit moeilik om ‘n transfusie deur die naelstring te gee, maar kan die bloed ook in die baba se buikholte gegee word.

Na die transfusie neem dit dan ‘n paar uur voordat jy die baba weer sal voel beweeg. As die baba al lewensvatbaar is, d.w.s. na 26 weke, sal ons ook na die tyd die baba se hartpatroon in die kraamsaal van die hospitaal monitor.

As die baba nie hidropies is nie, is daar ‘n hoër as 90% kans op oorlewing.  Met hidrops is die oorlewingskanse heelwat laer, omdat die baba so siek kan wees dat hy nie ‘n bloedtransfusie oorleef nie.

As die baba bloedarmoedig is as gevolg van ‘n virusinfeksie, is dit meestal net nodig om een of twee transfusies te doen, en kan die baba op voltyd gebore word.  As die baba bloedarmoedig is as gevolg van bloedgroeponverenigbaarheid, is dit meestal nodig om die transfusie elke twee tot drie weke te herhaal, en kan dit nodig wees om die bevalling ‘n paar weke vroeër te doen.

Na die intra-uterine transfusie kan dieselfde komplikasies as na ‘n diagnostiese kordosentese plaasvind. Lees dus ook die inligting oor kordosentese, ook wat die voorsorg voor en na die kordosentese betref.