HELLPsindroom

HELLPsindroom is ‘n ernstige vorm van pre-eklampsie (hoë bloeddruk en proteïen in die urine wat tydens swangerskap ontwikkel). Dit is ‘n akroniem vir  HEmolise (rooibloedselle wat disintegreer), verhoogde Lewerensieme en  Lae bloedPlaatjietelling.

Pre-eklampsie gee meestal geen klagtes nie, behalwe vir vogretensie (wat moeilik kan wees om te onderskei van die vogretensie wat deel is van ‘n normale swangerskap). HELLPsindroom kan ook sonder simptome wees, maar gaan dikwels gepaard met waarskuwingstekens soos hoofpyn, mislikheid of sooibrand, pyn hoog in die buik of skouer en troebel visie.

Die enigste definitiewe behandeling van HELLPsindroom is om die baba gebore te laat word.  Daar kan wel tyd wees om kortisooninspuitings te gee om die baba se longrypheid te verbeter.  Kortisoon kan ook help om die toestand van die moeder te verbeter.

Die baba is dikwels te klein vir die swangerskapsduur, en het ‘n hoër risiko om tydens die swangerskap of na geboorte te sterf, of met neurologiese probleme te oorlewe.

In ‘n toekomstige swangerskap is daar ‘n verhoogde kans om pre-eklampsie te ontwikkel, met ‘n ongeveer 1/3 kans om vroeg pre-eklampsie te ontwikkel, 1/3 kans aan die einde van die swangerskap, en ‘n  1/3 kans om sonder probleme deur ‘n volgende swangerskap te kom.  HELLPsindroom kan ook weer in ‘n volgende swangerskap herhaal, veral as dit in die tweede trimester (voor 28 weke) ontwikkel het.  Op die langer termyn is dit goed om gereeld jou bloeddruk en bloedsuiker te laat kontroleer, omdat HELLPsindroom gepaard gaan met ‘n verhoogde risiko vir hoë bloeddruk en suikersiekte.

 Skakels:

(helaas in Engels)

Health 24: pre-eclampsia and eclampsia

Mayo clinic fact sheet on preeclampsia