Groei en Doppler sonar
As dit lyk of die baba nie goed genoeg groei nie, kan jy verwys word vir ‘n groei en Doppler sonar. Ons meet die baba se hoof- en uikomtrek en femurlengte en beoordeel die hoeveelheid vrugwater. Die mates word geplot op grafieke met die normale mates vir die swangerskapsduur.
‘n Algemene rede waarom die baba nie goed groei nie, is ‘n plasenta wat nie goed funksioneer nie. Dit kan gepaard gaan met pre-eklampsie (hoë bloeddruk wat as gevolg van die swangerskap ontwikkel). As die plasenta nie goed funksioneer nie, versprei die baba sy bloedsirkulasie met meer bloedvloei na die hart en brein, en minder na die liggaam en bene. Ons sien dan dikwels dat die hoofomtrek normaal is, terwyl die femur en veral die buikomtrek te klein is.
Ons meet die bloedvloei in ‘n slagaartjie in die naelstring en in die baba se brein, die middel serebrale arterie. As die plasentawerking agteruitgaan, sien ons ‘n vermindering in bloedvloei in die naelstringslagaartjie wanneer die babatjie se hart ontspan (“diastolie”). As dit erg genoeg is, sien ons dat die bloedvloei in die naelstring vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde stop of selfs agteruit, van die plasenta terug na die baba, vloei. Terselfdertyd, sien ons dat die bloedvloei in die brein toeneem. Mens kan ook die bloedvloei meet in ‘n aartjie wat die naelstring met die hart verbind (die “ductus venosus”), wat ‘n aanduiding gee van hoe goed die baba se hartjie nog funksioneer.
Ons meet ook die bloedvloei in die middel serebrale arterie om te sien of die baba bloedarmoedig is.
Groeivertraging in ‘n baba met ontoereikende plasentafunksie – die hoofomtrek is normaal, maar die buikomtrek en femurlengte te klein.
Doppler van die naelstringslagaartjie met normale bloedvloei
Doppler van die naelstringslagaartjie met verminderde bloedvloei (tydens “diastolie”)
Doppler van die naelstringslagaartjie met afwesige bloedvloei tydens diastolie
Doppler van die naelstringslagaartjie met omgekeerde bloedvloei tydens diastolie
Hoë weerstand in die naelstringslaagaartjie, en verlaagde weerstand in die middel serebrale arterie
Doppler van bloedvloei in die middel serebrale arterie
Toename van bloedvloei in die middel serebrale arterie in ‘n baba met ernstige bloedarmoede







