Kordosentese

Wat is ‘n kordosentese

‘n Bloedmonster van die ongebore baba word verkry deur ‘n dun naald deur die buikwand in die naelstring te plaas. Die bloed in die naelstring is afkomstig van die baba, en kan gebruik word om spesifieke toestande van die baba te diagnoseer.

Waarom word ‘n kordosentese gedoen?

  • Om moontlike chromosomale abnormaliteite in die baba te bepaal (bv. Down-sindroom)
  • Om te bepaal of die baba anemies is voordat ‘n intra-uteriene bloedoortapping gedoen word (byvoorbeeld in gevalle van ernstige rhesus iso-immunisasie waar die moeder antiliggame teen die baba se bloedgroep produseer)
  • Om te bepaal of die baba geaffekteer is deur ‘n virus infeksie, bv. rubella (Duitse masels)

Hoekom word ‘n kordosentese soms gedoen in plaas van ‘n amniosentese?

Die resultate is gewoonlik beskikbaar binne drie dae in plaas van drie weke. ’n Kordosentese word dus verkies bo ‘n amniosentese indien:

  • Besluit word om ‘n chromosomale analise te verkry laat in die swangerskap (ná 20 weke), bv. wanneer ‘n abnormaliteit op sonar gesien is, of
  • ‘n Amniosentese gedoen is, maar géén of ’n onduidelike resultaat opgelewer het.

Waarom sou beide ‘n kordosentese en ‘n amniosentese gedoen word?

Dikwels word albei  gedoen by vermoedelike  anemie of infeksies in die baba, omdat elke toets inligting bied wat nie verkrygbaar is by die ander nie.

Waarom word ‘n kordosentese dan nie altyd gedoen in plaas van ’n amniosentese nie?

Amniosentese lewer sommige resultate op  wat nie uit ‘n kordosentese verkry kan word nie.

Dit is moeilik om ‘n kordosentese te doen voor 18 – 20 weke, omdat die bloedvate in die naelstring dan baie dun is.

Wie besluit of ‘n kordosentese gedoen word of nie?

Jou dokter of genetiese raadgewer sal aan jou verduidelik waarom ‘n kordosentese aanbeveel word. Dit bly jou eie keuse of jy dit wil laat doen of nie.

Wanneer sal ‘n kordosentese gedoen word?

Die tydstip van die kordosentese word bepaal deur die rede vir die kordosentese. Dit kan enige tyd tussen 18 weke en die bevalling gedoen word.

Waar word ‘n kordosentese gedoen?

Dit vind in die spreekkamer plaas met gebruik van die sonarmasjien.

Hoe word ‘n kordosentese gedoen?

Met ‘n sonarondersoek word die posisie van die plasenta (nageboorte) en die baba in die baarmoeder bepaal en word die beste plek vir die kordosentese gekies. Die dokter sal bygestaan ​​word deur ‘n verpleegsuster. ‘n Dun naald word deur die buikwand in die naelstring geplaas en ’n monster van die baba se bloed word geneem wat vir die verskillende toetse gestuur word . Plaaslike verdowing kan gebruik word. Die naald word weer verwyder en daarna word die baba se hartklop met die sonar gekontroleer. Die prosedure self duur ongeveer een minuut. As jou bloedgroep rhesus negatief is, en die baba se pa is rhesus positief, sal jy ‘n inspuiting kry om te verhoed dat antiliggame ontwikkel teen die rhesus bloedgroep van die baba.

Wat kan verkeerd gaan met ‘n kordosentese?

Gedurende die kordosentese

  • Dit is soms moeilik om die bloedmonster te verkry.  Dan word ‘n tweede punksie elders op jou buikwand gedoen.
  • Daar kan ‘n bloeding vanuit die naelstring ontstaan. Dit is  sigbaar op die sonar en stop gewoonlik binne ‘n paar minute.
  • Daar kan ‘n bloeding in die naelstring self ontstaan, wat die bloedvloei na die baba kan verhinder. Dit is slegs ‘n beduidende risiko by ‘n intra-uteriene bloedoortapping, of waar die baba ‘n baie lae plaatjietelling het.
  • Die baba kan beseer word deur die naald. Die kans hiervoor word verminder deur voortdurend met die sonar dop te hou waar die naald ten opsigte van die baba is.

As gevolg van hierdie potensiële komplikasies, kan die baba in die hospitaal gemonitor word vir ongeveer 30 minute na ‘n kordosentese wat in die derde trimester gedoen word.

Na afloop van die kordosentese

  • Vrugwater kan uitlek. Dit gebeur ongeveer by 1 uit elke 50 kordosenteses. Indien dit sou gebeur, sal jy binne ’n paar dae na die kordosentese ’n geringe hoeveelheid waterige vaginale afskeiding opmerk. Gewoonlik seël die lek vanself na ’n week se bedrus.
  • ‘n Miskraam kan voorkom. Simptome van ‘n miskraam is ‘n krampende abdominale pyn, erger as menstruele pyne, sowel as vaginale bloeding. Soms beweeg die baba ook minder. Dit gebeur ongeveer by 1 uit 100 kordosenteses. As jy enige van hierdie simptome toon , moet jy jou dokter onmiddellik kontak.
  • Daar kan ‘n infeksie in die baarmoeder ontwikkel. Simptome hiervan is koors, koue rillinngs, ‘n konstante pyn oor die buik, en soms ‘n onwelriekende vaginale afskeiding. As jy enige van hierdie simptome toon, moet jy jou dokter onmiddellik kontak.
  • As jy HIV-positief is, is daar ‘n groter kans dat HIV oorgedra word na jou baba as jy ‘n kordosentese gehad het.

Wanneer sal die resultate beskikbaar wees?

  • Die resultaat van die chromosomale toetse, wat sal aandui of die baba Down-sindroom of ander chromosomale abnormaliteite het , sal binne drie dae beskikbaar wees.
  • Die baba se hemoglobien telling (wat gedoen word om te bepaal of die baba anemies is) en die baba se rhesus bloedgroep word in die spreekkamer gedoen en is beskikbaar binne ‘n paar minute.
  • Ander toetse neem gewoonlik ‘n paar dae.

In alle gevalle, sal ons u telefonies kontak sodra die resultaat beskikbaar is. ‘n Afskrif van die uitslag word ook dadelik aan u ginekoloog gestuur.

Bepaal die chromosomale toetse slegs Down-sindroom?

Die chromosomale analise sal Down-sindroom en ander chromosomale afwykings òf bevestig òf die moontlikheid daarvan uitsluit. Die baba se geslag word ook deur hierdie toets bevestig. (Dui asseblief aan of jy die baba se geslag wil weet of nie).

Soms kan die volgende gebeur:

  • ‘n Sogenaamde chromosomale “mosaïek” kan gevind word. Dit beteken dat sommige selle normaal is, en ander abnormaal. Dit kan die baba se chromosomale patroon weerspieël, maar kan ook ‘n gevolg wees van abnormale sel ontwikkeling in die laboratorium, in ‘n baba met ‘n normale chromosomale patroon. As ‘n mosaïek gevind word, kan dit nodig wees om die kordosentese te herhaal.
  • Chromosomale abnormaliteite van onsekere betekenis gevind kan word. Dit sluit die volgende in:
    • ‘n Translokasie, waar een deel van ‘n chromosoom gevind word op ‘n ander chromosoom. Dit kan implikasies hê vir die ongebore baba as volwassene, wanneer hy / sy eendag self kinders het.
    • Chromosoombreuke, waar die chromosome opbreek in die sel kultuur. Dit kan implikasies hê vir die gesondheid van die ongebore baba as ‘n volwassene.
    • Ekstra X-of Y-chromosome kan gevind word. Dit kan implikasies hê vir die ongebore baba as volwassene, wanneer hy of sy eendag self kinders het.
    • Die baba se geslag soos gesien op sonar, kan verskil van die geslag soos verkry deur kordosentese. Dit kan beteken dat òf die sonar verkeerd was, òf dat ’n fout ingeglip het by die kweking of die verslag, òf dat daar werklik ‘n verskil is tussen die baba se genetiese en fisiese geslag. Dit is belangrik om hieroor uitsluitsel te kry voor die geboorte!

Watter voorsorgmaatreëls moet ek tref voor die kordosentese?

  • ‘n Vol blaas is onnodig vir die sonar (en ook baie ongemaklik!)
  • Bring iemand saam vir morele ondersteuning. Dit is moontlik om self huis toe te ry, maar ons beveel aan dat jy liewer nie self bestuur nie.
  • Laat ons weet as jy ‘n bloedingsneiging het en watter medikasie jy gebruik (insluitend lae-dosis aspirien of arnika).
  • Reël dat jy die res van die dag verlof het . (Laat ons weet as ons ‘n doktersbrief moet saamgee vir siekteverlof).
  • Maak seker of jou mediese fonds die kordosentese dek – beide die kordosentese self, en die laboratoriumfooi. Let asseblief daarop dat jy twee afsonderlike rekeninge vir die kordosentese ontvang: een van ons vir die prosedure, en een van die laboratorium vir chromosoomontleding. Die laboratorium fooi sal verdubbel vir die tweelinge, verdriedubbel vir drieling, ens.
  • As jy HIV-positief is, is daar ‘n potensiële risiko om die HIV virus oor te dra na die baba met ‘n kordosentese. As jy HIV-positief is, of graag getoets wil word vir HIV voor die kordosentese, laat ons asseblief vooraf weet.

Watter voorsorgmaatreëls moet ek tref na die kordosentese?

  • Neem die res van die dag af en rus tuis. Dit is nie nodig om in die bed te bly, maar moenie enige fisiek uitputtende werk of oefeninge doen nie.
  • Moenie enige swaar voorwerpe optel vir die volgende twee tot drie dae nie – ook nie ‘n kleuter nie!
  • Kontak ons ​​of jou ginekoloog indien enige van die volgende simptome ontwikkel:
    • maagpyn of krampe, erger as met ‘n menstruele siklus, wat nie verbeter  deur gebruik te maak van pynstillers nie  – een of twee tablette  parasetamol, bv. Panado R of Dolorol R
    • vaginale bloeding
    • Waterige vaginale afskeiding
    • Koors of rillings
    • Onwelriekende vaginale afskeiding
    • Verminderde fetale beweging.

Skakels:

(ongelukkig net in Engels beskikbaar)

Chromosoomafwykings